MONATE
JOU STUKKIE HEMEL-OP-AARDE IN DIE BOSVELD
ALGEMEEN…
Rina en Johan het hulle vakansie woning in 2000 gebou. Dit was een van die eerste huise in ‘n aandele blok, Red Mountain Lodge, geleë 2km buite Rooiberg in die Westelike Bosveld. Dis omtrent 150 minute se ry van Pretoria of Randburg, afhangende watter roete jy ry. Die heuwelagtige plaas is 3000 hektaar groot en is oortrek met goeie wildsbesigtiging grondpaaie. Daar is twee groot damme met bedekte uitkykpunte en braai geriewe. Die gesonde drinkwater is afkomstig van verskeie boorgate.
Die getal aandele, en gevolglik woonhuise, is beperk tot 40 en die erwe is so geplaas dat mens kwalik bewus is van jou bure. ‘n Gekwalifiseerde inwonende veldwagter is verantwoordelik vir die bestuur van fauna en flora, water en elektrisiteit, paaie en sekuriteit, netheid, verfraaiing en die algemene welstand van die plaas. Die aandeelhouers sorg vir die onderhoud van hul eie woonhuise.
Die wild word wetenskaplik bestuur en aangevul en/of uitgedun waar nodig. Jaarlikse jagpakette is beskikbaar vir die eienaars.
DIE HUIS…
Die huis is volgens ons behoeftes ontwerp en ons het dit met die draai van die eeu betrek. Die huis het drie vlakke. Ons leef hoofsaaklik op die middelste vlak met die voordeur en ingangsportaal aan die suide kant en die stoepe aan die noorde- en westekante.
Die kombuis/woonkamer en twee en suite slaapkamers loop met glas skuifdeure uit op ‘n lang stoep al langs die noordekant van die huis. Die stoep sluit ook aan by ‘n groot oop hout dek aan die westekant. Van albei die stoepe af het ons ‘n pragtige uitsig oor die bosveld en die aantreklike Waterberge op die horison. Die sonsondergange is fantasties mooi teen daardie berge.
Die onderste verdieping het twee slaapkamers en een badkamer. Aan die onderkant van die trappe is ‘n buite deur wat lei na die braai lapa en die werf.
BUITEKANT VAN HUIS:
Kliek op die fotos om dit groter te maak
en dan op ‘NEXT’ om die volgende groep fotos te sien
BINNEKANT VAN HUIS:
Kliek op die fotos om dit groter te maak
en dan op ‘NEXT’ om die volgende groep fotos te sien
DIE TELESKOOP…
Die boonste verdieping lei na die sterrewag waar Johan se groot 10-duim Meade teleskoop permanent gemonteer staan. Die dak van die sterrewag kan oopgemaak word om die sterrehemel te bekyk en te bewonder. Die skoon lug, wat ook vry van enige ligbesoedeling is, maak hierdie ‘n ideale plek vir ‘n goeie teleskoop. Menige interessante sterrekyk aande saam met familie en vriende word hier deurgebring.
Die sterrewag loop ook uit op ‘n stoep met ‘n dak, ideaal vir ‘n “sundowner” en die bewondering van die boomtoppe en die berge in die verte.
Die goedtoegeruste teleskoop met ‘n verskeidenheid oogstukke vorm deel van die huis se inhoud en word soos die meubels en gordyne saam met die huis verkoop. ‘n Mens sou hierdie ruimte ook vir die kinders in ‘n speel/kuier/slaap kamer kon verander.
MOTORHUIS & AFDAK…
Die garage is deel van die huis. Hierdie is Pa se vertrek! Al die gereedskap, verfblikke, elektriese goed, gom, skoonmaakmiddels ens. staan op rakke. Daar staan ook twee ekstra yskaste en allerhande ander groot goed (die groot sonsambreel en lere) wat nie in die huis plek het nie. Die dubbel volume garage het ‘n solder waar langer termyn goedere gebêre word.
Die garage word ook vir speletjies soos tafeltennis en veerpyltjies benut. Die totale inhoud word saam met die huis verkoop tensy die nuwe eienaars anders verkies.
Die inrypad na die huis is geplavei en lei na die voordeur en die onderdak parkeerplek vir twee motors. Laasgenoemde het, soos die huis, ‘n grasdak. Al die grasdakke is twee jaar gelede nuut gekam en weer bedek met nuwe ogiesdraad.
Die huis het ook ‘n lekker groot buitekamer waar al die tuin gereedskap gebêre word. Alles ingesluit.
DIE BRAAI LAPA…
Die braai lapa is sirkelvormig met die verhoogde braai area in die middel. Mens kan rondom op die geboude sitplek sit maar ons dra gewoonlik die opvou stoele soontoe. Groot bome verskaf heerlike koelte in die middag en mens het ‘n rustige uitsig op die bosveld omgewing.
DIE ONDERSTE LAPA & STROOM…
Van die huis lei daar kliptrappies onder die bome deur tot by die onderste lapa. Van hier af staan mens op die rand van ‘n kloof waar mens afkyk na ‘n waterstroompie. Ná goeie reën verander dit vir ‘n paar dae in ‘n dik stroom water!
Die sitplek is veilig met houtrelings en die grasdak skep ‘n lekker atmosfeer. Hier geniet ons die kabbellende stroom, voëlgesang en die sakkende son in die weste…‘n ideale alleenplek met ‘n lekker boek! ‘n Grond voetpaadjie lei deur die bome na onder vir die wat in die stroom wil gaan lê of speel.
DIE PLAAS…
Ons sê altyd ons gaan “plaas toe”. Voor die ontwikkelling van die aandeleblok, wat in die laat negentigs begin het, was dit ‘n groot beesplaas. Tans is hier baie wild wat besigtig kan word, nie alleen van jou stoep af nie maar ook met kilometers se paaie wat die hele plaas deurkruis.
Daar is twee pragtige damme met uitkykpunte, braai geriewe en spoeltoilette vir besoekers. As gevolg van die paar seekoeie en krokkedille word swem nie toegelaat nie. Elders op die plaas is ook piekniekplekke met onderdakgeriewe en toilette.
Die hele plaas is boomryk met hier en daar stukkies oop grasvelde.
ONS GAAN WINKEL TOE…
Die hoof sekuriteitshek (en enigste ingang) is ongeveer twee kilometer van Rooiberg af. Aangesien daar spoedbeperkings op die plaas is neem dit ons omtrent 12-15 minute dorp toe. Die grootste winkel is ‘n algemene handelaar wat kruideniersware, hardeware, varsprodukte, ens verkoop. Hulle verkoop ook drank, gas en brandstof.
Op die dorp is daar interessante eetplekke, ‘n bakkery, slaghuis, polisiestasie, mediese sentrum en sportfasiliteite soos tennis en rolbal. Daar is ook ‘n hotel met ‘n swembad en etes vir dag besoekers. Vir die gholfspelers is daar ‘n 18-putjie gholfbaan.
Die aantreklike dorpie, Rooiberg, het verlede jaar die tweede plek behaal in die Dorp van die Jaar kompetisie.
BEWARIA…
In die dorp is ook die sogenaamde Bewaria kantoor. Dit is ‘n plaaslike organisasie wat gesteun en bedryf word deur die omliggende gemeenskap en wat omsien na brandbestryding en sekuriteit. Alle ingange na die dorp word 24/7 beman en gekontroleer dmv valhekke en radioverbindings. Die gevaar is veediewe en wildstropers.
Al die plaasbestuurders is ook voltyds in radioverbinding en help met brandbestryding. Tydens brandseisoen word ook van professionele brandbestrydingsspanne gebruik gemaak. In elk geval word al die gras in ‘n 30 meter baan rondom ons huise vóór die Winter vir die eienaars kort gesny, net vir veiligeheid en netheid.
DIE FINANSIES…
Elke huis se water- en elektrisiteitsverbruik word maandeliks gemeet en betaal. Eskom krag is beskikbaar maar die plaas beskik ook oor ‘n kragopwekker wat krag kan verskaf tydens beurtkrag of ander onderbrekings. In ons huis kan ons ook oorskakel na ons eie petrol opwekker, maar dié het ons in al die jare net eenkeer gebruik!
Red Mountain Lodge Aandeleblok Beperk (Reg Nr 92/04029/06) staan ook bekend as Monate Privaat Wildreservaat. Die eiendom word bestuur deur ‘n gekose direksie en die dag-tot-dag bestuur word behartig deur ‘n inwonende gekontrakteerde bestuurder. Die inkomste berus op ‘n jaarlikse heffing wat verlede jaar R75 000 beloop het. Meeste aandele word deur twee, drie of vier mense besit.
Ons aandeel, Monate 38, is tans in die mark vir R3.5 miljoen, onderhandelbaar.